Witbank
Stigtingsdatum: Mei 1955
Lidmaattal: 241
Predikante wat die gemeente bedien
het: Di. Tobie Bothma, Boet van Rensburg, Coenie Smit, Willie
Grobler (snr), Hannes Cronje, Gerhard Wessels, Vic Smit, Albert Woest, Jurg le
Roux, Dries van Zyl, Gerhard Kok en huidiglik Carel le Cornu.
Geskiedkundige agtergrond: Na ‘n reeks dienste deur ds.
Serfontein in die Paxton gevangenissaal, het ds. Tobie Bothma as eerste leraar
na Witbank gekom. Later het hulle in ‘n bioskoop- en skoolsaal dienste gehou.
Tydens die bediening van ds. Coenie Smit, is die huidige kerkgebou opgerig en
op 26 Oktober 1968 ingewy. Die kerksaal is tydens die bediening van ds. Gerhard
Wessels opgerig. Die gemeente het genadiglik gegroei en ons dank die Here vir
manne en vroue wat die waarde van gebed en arbeid vir die Meester geken het.
Baie siele het deur die bedizening van die E.G.K. vrede gevind.
Die ewigheid sal getuig van die groot oes wat alreeds ingekom het. Ons dink
terug aan die beginjare waar die evangelie onder moeilike omstandighede
uitgedra is. In baie halfnagte van gebed is die Here gesoek. Ons het tans ‘n
baie groot oop deur by ‘n plaaslike radiostasie wat bydra tot die
bekendstelling van die gemeente en groot groei tot gevolg het.
Toekomsvisie: Dat daar positiewe
groei sal wees deurdat:
1. Menige siel waarlik gered sal word.
2. God se kinders hartsreiniging sal ondervind.
3. Siekes genesing sal ontvang.
4. Liefde onder mekaar sal voortduur.
5. Ons ‘n impak sal maak in die oesland.
6. Die Heer ons bruikbaar en diensbaar sal vind.
7. Ons Meester en Koning, Jesus Christus,
spoedig sal terugkom om ons wat op Hom wag, te kom haal.
Kort
boodskap van die leraar: Hou vas julle pand! Dis die moeite werd om aan te
hou! Kyk met verwagting elke dag uit na sy koms! Bewaak julle harte meer as
enigiets! Hou julle rein! Bring die ryp gerwe in! Wees getrou!