Tzaneen

 

STIGTINGSDATUM: 1954/1955

LIDMAATTAL: 112

 

Predikante wat die gemeente bedien het: Di. Fanie Becker, Nico Burger, Hendrik Swanepoel, Johan Welman, Boet van Rensburg, Gawie Knox, Hannes Holtz­hauzen, Albert Woest, Mannetjie van Zyl, Manie Reiners, Coenie Smit, Hendrik van Rensburg.

 

Geskiedkundige agtergrond: Na ‘n reeks dienste in 1954 deur di. J.K. Barnard en W.Rudolph was daar goeie belangstelling en is die gemeente in die stadsaal van Tzaneen gestig. Die gemeente het wonderlik gegroei in die beginjare. Op die 28ste November 1970 kon hulle hul eie kerkgebou inwy.

 

Aan die einde van ds. Boet van Rensburg se bediening, 1970-1980, is Lofdal Konferensie-terrein asook ‘n hele aantal boere in Trichardtsdal se omgewing wat aan die gemeente behoort het, se plase deur die staat uitgekoop. Vir 20 jaar het die gemeente as onselfstandig gefunksioneer onder die sorg van die SEK. Ds. Coenie Smit het die gemeente in 1998 na selfstandigwording gelei net voor sy emeritaat.

 

Toekomsvisie: Aan die begin van ons bediening hier het die Here aan my die belofte in Hagai 2:9 gegee. “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die Here van die leërskare; en op hierdie plek sal ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.” God is besig om hierdie belofte ‘n werklikheid te maak. Ons kyk na die toekoms vir ‘n dieper vervulling van hierdie belofte.

 

Kort boodskap van die leraar: Ek wil weens die feit dat ons  gemeente 20 jaar on­selfstandig was, ‘n woord van bemoediging rig aan die leraars en die gemeentelede van onselfstandige gemeentes. Net as ‘n mens wil moed opgee, verander God jou lot. Hagai 2:4: Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die Here, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Josadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die Here, en werk! Want Ek is met julle, spreek die Here van die leërskare.

God sal op die regte tyd groei bewerk.