Strand
Die wyk is van meet af aan deur
plaaslike predikante van Tygerberg bedien. Hierin het ds. Okkie du Plooy die
leiding geneem ten opsigte van die reëling en waarneming van eredienste. Met
die merkbare groei van die werkkring is ds. Jurg Prinsloo van Springs op 21 Junie
2001 as vierde leraar van Tygerberg beroep met die benoeming om in die Strand
te werk. Op 11 Augustus 2001 is hulle as gesin ontvang en is hy bevestig.
Vir baie jare was ‘n gemeente in die Strand ‘n gebedsaak vir lidmate wat
in die omgewing woonagtig was. Met die aanvang van die werksaamhede in die
pragtige Helderbergkom – wat bestaan uit die Strand, Somerset-Wes en
Gordonsbaai, is hul gebede verhoor. Ons kan getuig van wonderlike
belangstelling en meelewing wat veral ook getoon is met reekse dienste wat die
afgelope twee jaar gehou is. Reekse is gehou deur drr. Zevenster en Willie
Marais asook deur ander predikers. Nie alleen is siele gered nie, maar die
gemeente het ook bekend geraak in die gemeenskap.
Ons onmiddellike behoefte is altyd dat die Here ons siele sal gee sodat
sy werk kan groei. Daarnaas het ‘n nuwe gemeente altyd ‘n behoefte aan ‘n eie
plek van aanbidding. Tans aanbid ons in die saal van die Boland Kollege nadat
‘n saaltjie wat ons van die plaaslike hoërskool gehuur het, te klein geraak het.
Bid asseblief vir ons om grond te bekom of ‘n geskikte aanbiddingsplek te
verkry sowel as die nodige fondse vir die aankoop daarvan.
My
boodskap is: Evangeliseer, bid, werk en dien die Here met ywer en oorgawe.
Soek die leiding, vervulling en krag van die Heilige Gees, want die tyd is kort
en siele is kosbaar. Kyk op en nie na mekaar nie, volg die Here!