Standerton

 

STIGTINGSDATUM: 26 NOVEMBER 1944

LIDMAATTAL: 89

 

Predikante wat die gemeente bedien het: Di. Willie (W.P.) Grobler, Fanie Becker, Sarel Fourie, Charlie Miles, Corrie Naude, Willie du Plessis, Johan van den Heever, Willie du Plessis, Willie Lues, Fanie Becker, Wimpie Jacobs, Gawie Knox, Pieter Cronje, Vic Smit, Manie Alberts, Herman Kriel, Ferdi Devenier.

 

Geskiedkundige agtergrond: Op die 22ste November 1944 het dr. De Vos ‘n vergadering van belangstellendes kom toespreek in die stadsaal. Alle belangstellendes wat lidmaat van die N.P.K. wou word, se name is aan­geteken as meegaande lede. Op die 26ste November is die gemeente gestig tydens ‘n vergadering aan huis van mev. Swart waar dr. De Vos as spreker opgetree het. By die eerste kerkraadsvergadering op 7 Januarie 1945 is evangelis (ds.) Willie Grobler as eerste predikant ‘n salaris van R15 per maand + losies aangebied. Hy het aanvanklik die lidmate per trapfiets besoek aangesien hy nog nie ‘n motor gehad het nie. Aanvanklik is dienste in ‘n sysaal van die stadsaal gehou, maar die koste was te duur en daar is verskuif na ‘n tent op die erf van wyle mnr. Hendrik Pretorius. Sy prieël het die moederskamer geword. Die dienste het later verskuif na die huidige perseel te Kerkstraat 49a.

 

Die eerste Pinksterreeks is gehou aan huis van oom Sampie en tant Miemie Kleyn­hans op die plaas Leeuwspruit. Ongeveer 13 siele het onder die boodskappe van ds. Grobler hul lewens aan die Heer oorgegee.

 

Mnr. Frikkie Odendaal, skoonseun van wyle ds. Attie Naude, was vir meer as 31 jaar vise-voorsitter van die gemeente. Hy is altesaam reeds 48 jaar ‘n kerkraadslid en dien nog steeds as ouderling. Min – indien enige, kan by hom kers vashou.

 

Toekomsvisie: Om elke lidmaat te begelei tot volwassenheid in die Here Jesus (Ef. 4:11-16), ten einde uitvoering te gee aan die “Groot opdrag”( Matt 28:19). Elke lidmaat ‘n sielewenner vir en dissipel van die Here Jesus.

 

Kort boodskap van leraar: Ons lewe in ‘n wêreld van kompromie; in ‘n gemeenskap wat alle morele stan­daarde verban het; ‘n ge­meenskap wat alle Christelike waardes en be­ginsels verruil het vir die ge­loof­s­oortuigings van hierdie wêreld. Kompromie is ‘n teken van die self-lewe. Dit ondermyn die ouer om sy kind op te voed in die vrees van God, dit maak die kerk kragteloos en laat die kerk sy bestaansreg verloor. Mag u as leser besef watter groot gevaar daarin is om kompromie te maak, en mag u altyd: “kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 1:3).”