Sasolburg
STIGTINGSDATUM: 25 NOVEMBER 1973
Predikante wat die gemeente bedien
het: Di. N.A.J. van Rensburg (1974-1975), H.Smit (1975-1978),
F.Viljoen (1978-1983), L.P. van Sittert
(1983-1986), C.P. Bester (1986-1998) en E. Moolman (1998 . . .)
Vroeg in 1972 is die Ruth Steyn Kleuterskool te Sasolburg se
saaltjie vir dienste gehuur. Destydse kweekskoolstudente wat betrokke was by
die hou van dienste op Sasolburg, was: (di.) Corrie Bester, Hennie Prinsloo en
Gerhard Wessels. Onder voorsitterskap van ds. F.S. Coetzee as Ringsverteenwoordiger,
is ons gemeente op Sondag 25 November 1973 om 11:30 vm. in die Nuwe
Protestantse Kerk te Vanderbijlpark gestig. Onder leiding van ds. N.A.J. van
Rensburg het die gemeente so vinnig vooruitgegaan dat hulle moes skuif na die
Saffas Kapel. Talle mense het tot bekering gekom. ‘n Persoon van ‘n ander
kerkgenootskap het ten opsigte van hierdie tyd in ons gemeente opgemerk: “Daar
was herlewing!”
Die kerkgebou is letterlik op ‘n rots gebou. Terwyl ds. H. Smith aan
die toring gebou het, het sy twee dogters hom toegesing: Bobbejaan klim die
berg. Op 24 Maart 1979 is die kerkgebou deur ds. F. Viljoen ingewy. Tydens
een van ds. L.P.van Sittert se bekeringspreke het ‘n vroutjie buitekant haar
huis oorkant die kerk gesit en luister. Die boodskap het haar hart geraak en
sy het tot bekering gekom en lidmaat geword. Tydens die bediening van ds. C.P.
Bester is Parys gemeente vanuit
Sasolburg gestig. Tans onderhou die gemeente vir ds. J. Moloi wat in Zamdela
arbei. Hy het in ‘n motorhuis begin met 6 lidmate en het huidiglik ‘n
lidmaattal van om en by 100 wat hy in ‘n tent bedien wat deur die gemeente
aangekoop is.
Toekomsvisie: Ons visie is dat ons as gemeente ‘n Jesus-gesentreerde gemeente sal wees. ‘n Gemeente waarvan Hy nie net in naam nie, maar in wese die Erekoning sal wees. Ons wil sy liefde teenoor mekaar en ‘n verloregaande wêreld uitleef. Die smagting van ons hart is dat elke lidmaat ‘n visser van mense sal wees en dat ons as gemeente ons eie sendelinge sal kan uitstuur.