Pretoria-Tuine

 

STIGTINGSDATUM: 1 AUGUSTUS 1968

LIDMAATTAL: 332

 

Predikante wat die gemeente bedien het: Ds. Nic Burger, Lambert van Sittert, Bertus van Rensburg, Corrie Bester, Willie Lues, Danie Ferreira, Frik Lombard (sr) en Frik Lombard (jr)

 

Geskiedkundige agtergrond: Die gemeente , tesame met die gemeente Rietfontein, was die Moedergemeentes van Pretoria, wat vanuit die kerk in Kerkstraat Pretoria, na die Wes- en Mootomgewing onderskeidelik uitgebrei het. Die fondasie, kerkgebou en saal, matte en banke is die handewerk van gemeentelede. Die banke en houtwerk is gedoen deur Frikkie Els, tans van Wonderboom gemeente. Die volgende lidmate is uit die gemeente geroep na die kweekskool, naamlik Frikkie Lombard, Marlene Lombard, Frans Britz, Albert de Nyschen en Pieter Cronje. Die kerkgebou en saal is die oudste van die Pretoria gemeentes (kerkgebou is ingewy 26 September 1970). Die gemeente is bevoorreg om huidiglik deur pa en seun as leraars bedien te word, manne van God, een van Gees en een van sin.

 

Toekomsvisie: Dat die gemeente nie net weet van die krag van die Bloed nie, maar dit ook sal ervaar en verkondig oral waar hulle mag gaan.

Spreuke 11:30: . . . en hy wat siele win, is wys.

 

Jes. 53:5: Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

 

Boodskap van leraar: Dat ons die roeping waartoe God ons geroep het, sal najaag, naamlik:

1.   Om ‘n heiligheidskerk te wees. 1 Pet. 1:15,16: Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

2.   Dat ons almal (leraars, kerkrade en hul vroue) as herders sal waak dat ons die kuddes nie sal verwêrelds nie. Rom. 12:1,2: Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

3.   Dat elke jeugmaat, broer en suster in die Here sal terugkeer na die ou paaie van bekering, hartsreiniging en vervulling met die Heilige Gees, asook genesing en wederkomsgereedheid. Jer. 6:16: So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons sal daarin nie wandel nie.

4.   Mag die Here in ons gewillige harte vind en ons die seën van die Here ondervind: 1 Tim. 4:16: Let op jouself en die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.