Pretoria-Rietfontein
STIGTINGSDATUM:
JUNIE 1968
Predikante wat die gemeente bedien
het: Di. C.C.J. Serfontein (1968-1970), J.C. Welman (1971-1975),
S.J.Hugo (1975-1978), T.C.J. Bothma (1978-1994), M. du T. Loubser, (1986-1992),
J.A. Schellingerhout (1993), W.F. de Waal (1995-1999), G.A.van Dalen (2000-)
(= medeleraars).
Geskiedkundige agtergrond: Toe die
eerste en enigste gemeente van die eertydse Nuwe Protestantse Kerk destyds in
Pretoria sy gebou in Kerkstraat 21 verkoop het, is die gemeente in Junie 1968
in ‘n westelike en oostelike gemeente verdeel. Later sou die oos-gemeente
bekend staan as Rietfontein-gemeente. ‘n Erf in dié voorstad in 27e Laan is vir
die gemeente bekom. Die eerste kerkraadsvergadering van die nuwe oostelike
gemeente is op 24 Junie 1968 in die Ou Mutual-gebou op Kerkplein gehou. Ds. Nic
Burger, die westelike gemeente (tans Tuine) se predikant het as voorsitter
opgetree. Tot met die beroep van ds. Serfontein het emeritus ds. Charlie Miles
die gemeente bedien. Dienste is in die Vrouefederasiesaal, 28e Laan, Villieria
gehou. Uit Rietfontein is die gemeentes Pretoria-Maranatha (1973) en
Pretoria-Oos (1998) afgestig. Die kerkgebou en saal is op 11 September 1971
ingewy.
Rietfontein gee nou al vir vele jare meer as 10% van sy inkomste vir
wêreldevangelisasie. Dit het tot besondere finansiële seën gelei, waarvoor ons
ons getroue God alle eer gee.
Toekomsvisie: . . . Dat die
gemeente ‘n geestelik volwasse, ywerige groep mense sal wees wat God sal
verheerlik met hul ywer en getrouheid. Dat God spoedig ‘n Bybelse herlewing sal
stuur sodat vele verlorenes Christus sal vind, kinders van God geheilig sal
word en die evangelie wyd sal uitdra met groot ywer.
Kort boodskap van leraar: Mag u as leser, verby dit
kyk wat mense in die E.G.K. vermag het, en u hart onverdeeld op Christus rig
van wie alles kom en wat dit moontlik gemaak het deur sy kosbare Gees. Mag ons
almal Hom met alles in ons volg en dien, sodat Hy ons kan gebruik as geestelike
volwassse kinders van God waar ons ook al beweeg. En mag God ons vry maak van
alle wêreldgesindheid en heilig en bruikbaar maak totdat Christus in glorie
verskyn!