Potgietersrus

 

STIGTINGSDATUM: 9 JANUARIE 1987

 

In Oktober 1986 is ‘n diepteondersoek gelei deur di. F.J.S. Haupt en F.S.Coetzee na die moontlikheid om ‘n werkkring in Potgietersrus te begin. Die vergadering is gehou aan huis van mev. S. Swanepoel te Schoemanstraat 142. Daar is besluit om ‘n werkkring op Potgietersrus tot stand te bring en ‘n teologiese student hier te plaas. Op 4 Desember 1986 is proponentskandidaat J.M. du Plooy met sy gesin hier gevestig.

 

Die eerste diens was op  7 Desember in die St.Pauls kerkie. Op 9 Januarie word die gemeente as ‘n on­self­standige gemeente gestig. Ds. Haupt het die boodskap gebring en ds. Coetzee het die kerk aan die teen­woordiges bekend gestel. Onder groot belangstelling is die gemeente met 19 lidmate gestig. Die eerste kerkraad het bestaan uit proponent du Plooy as vise-voorsitter. Die ouderlinge was oom Chris Coetzer en oom Chris Pretorius. Die diakens was Koepie Coetzer en Kobus Blignaut.

 

  Die eerste doopdiens en voor­stelling van nuwe lidmate is op 15 Maart 1987 gehou. Sewe lidmate is voorgestel en twee babas gedoop. Hulle was Michelle Blignaut en Susan Oosthuizen.

 

  In Maart 1987 verskuif die dienste na die Sewendedag Adventiste Kerk. Op 9 Januarie 1988 is ds. Du Plooy as eerste leraar georden en bevestig. Die 10 April 1989 word die eerste diens in die nuwe saal van die kerkkompleks gehou en op 5 Augus­tus 1989 word die nuwe kerk­kompleks in gebruik geneem.

 

  Na die vertrek van ds. Du Plooy in 1990 is hy opgevolg deur ds. Carl le Cornu. Daarna het gevolg propo­nentskandidaat Gerrie Ploos van Amstel wat op die 3 Desember 1993 vir sy internskapjaar in die gemeente geplaas is. Hy word deur die SEK benoem as leraar van die gemeente op 10 Februarie 1995 en die 18 Februarie as predikant georden. Hy was altesaam vir 5 jaar in diens van die Here te Potgietersrus. Met sy vertrek, is ds. Willie de Wet van Virginia vir Potgietersrus benoem. Hy is sedert 10 Januarie 1999 die leraar van die gemeente.