Emmanuel Gemeente

(Pietersburg)

 

STIGTINGSDATUM: 1964

LIDMAATTAL: 162

 

In 1964 het proponent Van Tonder Pinksterdienste aan die huis van mev. Ida Ferreira gehou. In daardie stadium was daar maar slegs 10 lidmate in die gemeente. Mev. Rahn was destyds die kassiere van die gemeente en mnr. en mev. Burger was  betrokke by die Sondagskool en katkisante. Babas is gedoop aan huis van mnr. en mev. Venter. Die eerste lidmate van die gemeente was: Mev. Rahn en gesin, mev. Ella du Preez en seun, mnr. en mev. Koos Burger, mnr. en mev. Venter en gesin en mnr. en mev. Meyer. Daar was egter ook twee huisgesinne in die gemeente wat op plase gewoon het aan wie se huise daar gereeld dienste gehou is. Hulle was tannie Bellie Lyon (reeds oorlede) en haar gesin en tannie Hester Knox en gesin. Tannie Hester, een van ons oudste lidmate leef nog en kom gereeld kerk toe.

 

  Ongeveer 1966 is dr. Kotzé as proponent uitgeplaas na Pietersburg gemeente. Spesiale dienste is in die sysaal van die stadsaal gehou en heelwat mense het hier tot bekering gekom. Twee keer is daar deur hom aansoek gedoen by die stadsraad vir die grond waarop die kerk tans staan. Albei kere het misluk aangesien daar volgens die stadsraad nie genoeg lidmate in die gemeente was nie. Daarop het die gemeente gevas en gebid en deur die Heer se genade is die grond aan die gemeente geskenk. Kort daarna het ds. Kotzé na sy nuwe arbeidsveld vertrek.

 

  Ds. Kitching, sy opvolger, het die Lutherse kerkie vir dienste en byeenkomste gebruik. Weer eens was die genade van die Here oorvloedig en vele mense het tot bekering gekom sodat die gemeente gou uit sy nate gegroei het.

 

  Ds. Barkley was die eerste leraar wat aan die huidige kerkgebou begin bou het. Wyle ds. Vic Smit het die bouwerk aan die pastorie begin. Vanuit die gemeente is daar manne en vroue vir voltydse diens geroep. Di. Johan Reiners,  Frikkie Smit, Wimpie Raath, Eugéne Moolman, Herbie Lyon en Jan Bekker. Maryna Meyer en Nora Smit het hul diplomas by die A.E.B. ontvang.

 

  Predikante wat die gemeente bedien het, is: Dr. Kotzé, di. Kitching, Barkley, Wessels, Smit, Van Zyl (Dries), Smit (Tertius), Le Cornu en Alf Breedt.

 

  Tans is die gemeente besig om ‘n saal en kombuiskompleks aan te bou.

  Ons toekomsvisie is Joh. 15:2 – elke gemeentelid aktief be­trokke in die wingerd van God.

 

  Ek glo die Here het na sestig jaar van genade steeds ‘n groot plan en doel met hierdie kerk in Suid-Afrika. Dit is my gebed dat elke lidmaat dit sal ontdek, daarby sal inval en met nuwe ywer en passie dit begin uitleef sodat ons ‘n verskil sal maak in die laaste skof van ‘n reeds donker węreld.