Parys

 

STIGTINGSDATUM : 25 Januarie 1993

LIDMAATTAL: 84

 

Tot op hede is die gemeente deur drie predikante bedien. Hulle is di. J.Tolken, C.P. Bester, en D.Kotze.

 

  Die gemeente het begin as ‘n werkkring van Sasolburg gemeente. Ds. C.Bester het Parys as ‘n werk­kring bedien met ongeveer 12 be­langstellendes in daardie stadium. Daarna het ds. Bester voornemende lidmate besoek waarna daar ongeveer 22 siele aangesluit het op 29 November 1992. Hulle is in Sasolburg gemeente voorgestel. Die boodskap van ds. Bester was by die geleentheid uit Psalm 150.

 

  Die gemeente is amptelik op 25 Januarie 1993 gestig.

 

  Die kerkgebou is amptelik ingewy op 11 Maart 1995 – op hul leraar, ds. Tolken, se verjaarsdag. Die saal is ongeveer November 2001 gebou en ingewy net voordat die huis langs die kerk gerestoureer is as die gemeente se nuwe pastorie. Ds. en mev. Kotze is as nuwe leraarspaar in die “nuwe” huis ontvang op 1 Junie 2002.

 

  Tydens die Oktobervakansie van 2002 het die gemeente geskiedenis gemaak toe ds. Kotze ‘n reeks wederkomsdienste aangebied het in ‘n reusagtige markiestent wat in die middel van die dorp opgeslaan is. Sy vrou Chantal, het terselfdertyd ook vir die eerste keer in die geskiedenis van die gemeente ‘n 5-dag-goeie-nuusklub aangebied vir die kinders van die dorp. In Oktober 2003 het sy weer so ‘n aanbieding in die kerksaal gehou.

 

  Ons visie is: om gehoorsaam te wees aan die opdrag om die gemeenskap asook die wêreld te bereik met die evangelie van Jesus Christus. Ons begeerte is om ‘n merkwaardige verskil en impak in Parys te maak vir die saak van God.

 

  Onthou dat God elke mens beplan het en dat niemand ‘n “ongeluk” is nie. Daarom het God nog met ons elkeen ‘n plan en doel vir die hier en die nou. Vind daardie droom en visie wat God vir JOU lewe het, en streef met alles wat jy het en is om daardie droom te verwesenlik.

 

  Want in Hom is alle dinge ge­skape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en on­sienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.

 

  Ons almal is deur God geskape, maar ook tot Hom. Maak seker dat jou lewe God verheerlik. Moet net nooit toelaat dat enige mens jou ooit beroof van die visie wat God vir jou lewe bepaal het nie.