Oos-Londen
STIGTINGSDATUM: 29 NOVEMBER 1987
Nog voordat God die hemel en
aarde geskape het, het Hy Oos-Londen in vooruitsig gestel en die gemeente sal
bly bestaan totdat Koning Jesus ons kom haal. Van net ‘n paar gesinne het die
gemeente mooi gegroei. Hierin sien ons die Vader se wewershand. Hy besluit oor
elke draadjie (lidmaat) wat ingeweef moet word. Ons verstaan nie altyd hoe Hy
werk nie – ons sien maar net die onderkant van sy tapiserie, maar eendag sal
ons die voltooide werk van Bo sien.
Die eerste leraar was ds. Harry van Niekerk. Na hom het ds.
Conrey Ferreira as leraar voortgegaan. Met sy vertrek in 1993 was die
finansiële stand van die gemeente van so ‘n aard dat die gemeente nie langer ‘n
predikant kon onderhou nie. Vanaf Desember 1993 toe en met November 1995 is
alle dienste en bidure deur twee ouderlinge gelei. Die gemeente kon nie meer
amptelik as gemeente bestaan nie en daar is besluit om voort te gaan as ‘n wyk
van Port Elizabeth Moedergemeente. Gedurende hierdie tydperk het die twee
predikante van Port Elizabeth die wyk van tyd tot tyd besoek en bearbei.
Gedurende November 1995 is die blye nuus ontvang dat kweekskoolstudent André
Bester sy praktiese jaar in Oos-Londen sal deurloop.
Op ‘n spesiale gemeentevergadering in 1996, waartydens Oos-Londen opnuut as volwaardige gemeente onder die Oos-Kaapse Ring gestig is, is ds. André Bester as leraar beroep. In Desember 1996 is hy as derde leraar van die gemeente georden. Tydens sy bediening het hulle aanvanklik in ‘n skoolsaal kerk gehou en later in die Sewendedagadventiste se kerkgebou. In Maart 2002 is ds. Bester na Mosselbaai beroep. Hy is opgevolg deur ds. Johann Dörnbrack wat op 4 Mei 2002 as vierde leraar van Oos-Londen georden is. By dié geleentheid het ds. J. D. Mienie jr.die boodskap gebring en die ordening is waargeneem deur ds. Jannie Olivier. Ds. Dörnbrack se oupa, wyle ds. Attie Olwagen, was ook teenwoordig.