Onrusrivier - ‘n gemeente in wording
Daar is in Maart 2003 gevoel om met
dienste in Onrusrivier te begin. Na die hou van ‘n reeks wederkomsdienste deur
dr. Zevenster het die Here ‘n aanbiddingsplekkie voorsien waar daar elke
Sondag dienste gehou word.
Verskillende persone is gebruik om die dienste te hou – veral deur
E.G.-predikante in die nabye omgewing. Die Here het ook vir die groepie ‘n
orreliste voorsien en die dienstye word gekenmerk deur hartlike samesang. Die
groepie het intussen begin bid vir iemand om hulle voltyds te bedien. Die Here
het dit so bewerk dat Ian Coetzee gevra is om sy internskapjaar hier te doen.
Toe ek in November 2003 hier begin preek het, het ons begin met ‘n
groepie van ongeveer 19 mense. Die sieletal tydens eredienste het intussen al
tot 30 gegroei. Daar was selfs tydens die vakansie al 100 mense in ‘n erediens.
Ons wil die Here eer vir die klompie persone wat reeds aangedui het dat hulle
lidmate wil word. Bid asseblief gedurig vir ons.
Ons visie is: eerstens om die evangelie by elke persoon in die
gemeenskap uit te bring. Verder wil ons ‘n jeugtak op die been bring en ‘n
selgroep vir die werkende jeug. Samevattend is ons visie: Hermanus vir Jesus!
Ons het
weer durf nodig om die Here te glo en te vertrou. Fil.4:19: En my God sal
elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.
Ons moet weer leer om die Here op sy woord te neem en Hom vas te hou in
gebed.