Mosselbaai
STIGTINGSDATUM: 1992
Predikante wat die gemeente bedien
het: Di. Johan Cloete, Derek Kotze en tans André Bester.
Geskiedkundige agtergrond: Die visie
het vanuit George gemeente ontstaan. Ds. Cloete het sy praktiese jaar in 1992
in Mosselbaai kom doen en met 5 mense begin. By die stigting van die gemeente
was daar 17 lidmate. Daar is by Milkwood Primary dienste gehou totdat
die kerk gebou is.
Die Here het ‘n wonderlike gees van
eensgesindheid kom werk waarvoor ons die Here nooit genoeg kan dankie sê nie.
Die gemeente is dankbaar vir die werk wat die Here van dag een af in die
gemeente gedoen het. Elke siel wat hier gered is, elke kind van God wat hier
geestelik groei, elke persoon wat vanuit die gemeente geroep is tot voltydse
diens – is ‘n getuienis van God se werk.
Toekomsvisie: Dit is die
begeerte van die kerkraad en die gemeente dat die Here nog talle kosbare siele
sal red deur die getuienis van die gemeente. Ons bid dat die Here ons sal
toerus en bekragtig sodat lidmate lewende getuies van ons Here Jesus sal wees.
Ons wil die Woord van God in ons harte bêre sodat ons geestelik kan groei.
Kort boodskap van leraar: Die Woord
van God sê dat tye moeilik sal raak in die laaste dae, mense sal van die geloof
afvallig raak ens. . . . Die geestelike, morele en sedelike verval is ‘n
lewende realiteit. Die boodskap van heiligmaking druis in teen die gees van die
tyd, dit laat ons soos mense van ‘n ander planeet voel. Maar ons is mos burgers
van ‘n ander plek – of hoe?
Bekerings is baie skaars. Die oplossing is in die Woord van die Here: 1 Kronieke 28:9 – “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek alle harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.”