Die verhaal van Kimberley

 

STIGTINGSDATUM: 1954

LIDMAATTAL: 61

 

Die gemeente van Kimberley is vanjaar 50 jaar oud. In 1954 het die gemeente tot stand gekom na twee reekse dienste. Die eerste was deur die destydse moderator, ds. Ser­fontein, en die tweede deur ds. Geldenhuys. Met die stigtings­geleentheid is ds. Geldenhuys beroep as eerste predikant vir die gemeente. Ander predikante wat hier diens gedoen het, was: di. C. Serfontein, T. Pretorius, Saunders, B. Barkley, T. Smit, Z.van Rensburg, J. Herbst, H.van Niekerk, W.Grobler, F. Bek­ker, en tans J.Homann.

 

  Aanvanklik is daar gebruik gemaak van die Vrymesselaars se saaltjie. Soos die gemeente gegroei het, het hulle later dienste by die rugby­pawiljoen in die kleedkamer se saaltjie gehou.  Daarna is daar in die bedieningstyd van ds. Tjaart Pretorius ‘n ou Engelse sinkkerkie aangekoop vir R1 700. Die geboutjie was so bouvallig dat hulle die dak moes stut met teerpale. Met die uitbreek van die plankvloer is daar op ‘n ou doopbadjie afgekom.

 

  In 1973 was die kerkie te klein en ds. Saunders hoor dat die Ge­reformeerde kerk in die mark is. Die gemeente het in daardie stadium net R1 in die bank gehad. Ds. Saunders en van sy kerkraad het hul hande op die gebou gelê en dit van die Here afgebid. Hy is daarop na die bank­bestuurder en het aan hom ver­duidelik dat die Here die geld sal voorsien. Die Gereformeerde Kerk het hul kerkgebou aan ons verkoop onder die voorwaarde dat R10 000 binne drie maande oorbetaal moes word om oordrag te bekom. ‘n Boufonds is met 50 sent begin en drie weke voor die sperdatum kon die verlangde bedrag inbetaal word. Op 1 September 1973 is die huidige kerkgebou ingewy en die kerk­raadslede se name in ‘n plas­tiekhouer agter die gedenksteen ingemessel.

 

  Ons begeer in hierdie tyd ‘n groot en kragtige werking van die Heilige Gees in ons gemeente. Dat Hy die gemeente sal laat groei tot ‘n gemeente wat geken sal word aan sy eensgesindheid. Die begeerte van ons hart is dat die Here deur ons gebede ons aan mekaar sal kom bind met die volmaakte band van die liefde wat daar in Christus Jesus is. Dat ons so vol sal wees van die vrug