Gamtoosvallei
Op Sondag 26 Oktober 2003 het die
gemeente van Gamtoosvallei die 21ste bestaansjaar van hulle pragtige kerkgebou
gevier. Die geleentheid is gevier as ‘n dagkonferensie, ‘n formaat wat goed
byval vind in ‘n landelike gemeenskap. Aangesien ds. Bill Barkley destyds
betrokke was by die totstandkoming van die gemeente, is hy as spreker genooi
vir die dag. Drie dienste is gehou, met gesellige saamkuier en baie heimwee
tussen-in.
Rondom 1960 het Uitenhage kerkraad begin om Hankey te bedien as ‘n wyk
van die gemeente. Daar was destyds 9 lidmate hier en dienste is elke tweede
Sondag gehou, onder andere deur ds. Coenie Smit, wat toe leraar op Uitenhage
was. Sondagskool en bidure is ook gehou, aanvanklik in oom Dirk Schellingerhout
se huis. As gevolg van die toenemende belangstelling in die dienste, is die ou
munisipale gebou as kerk gebruik. Later koop die groepie lidmate die gebou en
knap dit op.
Beide di. Saunders en Bekker het as emeriti hulle op Hankey gevestig en
hard gewerk om die evangelie hier uit te dra. As gevolg van die gehawende
toestand van die gebou, word besluit om ‘n eie kerk te bou. Ds. Bekker het ‘n
uiters ruim bedrag geskenk en ná nog skenkings, het oom Sidney Colling die kerk
gebou.
Op 30 Oktober 1982 is die S.J. Bekker-gedenkkerk op ‘n luisterryke wyse
ingewy. Ds. Saunders het die hoeksteen onthul en ds. Barkley het die boodskap
gebring. Hierna het die kerkraad van Uitenhage die S.E.K. genader om
proponentskandidaat Peet Schoeman in sy praktiese jaar in die gemeente te plaas. Op 18 Oktober 1983, byna
‘n jaar nadat die kerkgebou in gebruik geneem is, word die onselfstandige
gemeente van Gamtoosvallei gestig met 32 lidmate. Ds. Peet Schoeman word hier
georden en bevestig as eerste leraar van die gemeente. In Julie 1985 word die
gemeente selfstandig en bou kort daarna die pastorie langs die kerk. Sedertdien
het ds. Jannie Olivier en Pieter Swanepoel hier gearbei en ds. Wimpie Snyders
is tans die leraar. Gamtoosvallei is een van die min gemeentes waar die kerk gebou
en betaal is, voordat daar ‘n gemeente gestig is. ‘n Sendinggemeente
(Kleurling) het ook op Hankey tot stand gekom en gaan steeds van krag tot krag.
Hier in die pragtige en vrugbare Gamtoosvallei het die Here die gemeente
die afgelope 21 jaar in stand gehou en aan Hom alleen kom al die eer toe.
Ons visie is om ‘n toenemende impak te maak in ons gemeenskap deur die
uitdra én uitleef van die evangelie-boodskap aan alle mense.
God se
getrouheid staan onwankelbaar vas. Ten spyte van baie negatiewe omstandighede,
het die Here getrou gebly. Kom ons gaan die toekoms vreesloos tegemoet en
verwag groot dinge van ons grote God – dinge wat pas by die eer van sy Naam.