Bloemfontein

 

STIGTINGSDATUM: 7 Desember 1944

LIDMAATTAL: 102

 

Onder leiding van dr. J.D. de Vos het Bloemfontein as 8ste gemeente van die N.P.K. tot stand gekom. Die eerste amptelike diens is deur hom op 10 Desember aan huis van mnr. en mev. Smith van Bromptonweg  gehou. Daar onder die bome is groen seile oopgegooi, bankies en stoele is aangedra vir die kerkgangers. Kort daarna is die dienste verskuif na die St. John Ambulanssaal. Op 12 Augustus 1945 is mnr. Kapp afge­sonder en georden as leraar van Bloemfontein gemeente. Na hom het verskeie predikante hier diens gelewer. Dit sluit onder andere di. Nel, Bothma, Roach, Myburgh, J. Grundling, H. Smit. W. du Plessis, C.A. Devenier, J. Douglas en H. van Niekerk in.

 

  Tydens die bediening van ds. P.S. Roach (1958) is dienste in sy sitkamer te Bloemspruit  gehou. Hy het op die viool of Hawaian kitaar gespeel terwyl sy dogter op die klavier begelei het. Toe die sitkamer te klein raak, is daar van ‘n tent op die plotte gebruik gemaak. Daarna het hulle na die Raadsaalkompleks  in st. Georgesstraat verhuis. In dieselfde kompleks het dr. Andrew Murray feitlik net ‘n 100 jaar van te vore dienste gehou. Daarna is daar van die St. Andrews skoolgeboutjie gebruik gemaak totdat ds. Johnny Grundling die gemeente gehelp het om die Anglikaanse kerkgebou in Noordhoek te koop. Tans is hul nuwe kerkkompleks in aanbou te Fleurdal. Die gemeente verwys na hulself as die Rosestad gemeente.

 

  ‘n Vroeëre kerkraadslid, ouderling Jannie Mostert, het sy hele gesin met sy fiets kerk toe vervoer. Tussen sy sitplek en die handvatsel van die fiets was daar nog ‘n sitplek. Verder het hy ‘n “treppie” gebou wat hy aan sy fiets vasgemaak en gesleep het. So het hy sy vrou en vyf kinders vervoer. Die afstand wat hy gery het, was van die Nasionale Hospitaal tot by die plotte – ‘n afstand van tussen 8 en 10 kilometer. O, die honger na Gods Woord!

 

  “Die slapende reus in ons Kerk is ons gewone lidmate. As hiedie reus wakker word, sal hy die wêreld skud.” Die saak van God is nie ‘n “sterk individuele” – saak nie, maar ‘n “liggaam van Christus”- saak. Elke afsonderlike lid van hierdie liggaam het sy/haar onontbeerlike bediening. In die eerste plek vloei die Heilige Gees deur mense. Tweedens gebruik Hy metodes. Kom ons laat die reus ontwaak. Ons kan mense nie dryf na hierdie doel nie. Kom ons lei hulle daarheen.