Belfast

 

STIGTINGSDATUM: 1944

LIDMAATTAL: 112

 

Belfast is een van die oudste ge­meentes. Verskeie predikante het hier diep spore getrap. Di. Serfon­tein, Piet Smit, Saunders, Boet van Rensburg, Holtzhauzen, Grundling, Bert van Zyl, Dries van Zyl, Rudi Beukes, Frikkie Lombard (jr) en tans ds. Danie van Rensburg.

 

  Die gemeente het besondere geeste­like seën ontvang tydens ‘n reeks dienste onder ds. Ben Smit vanaf 8 tot 14 Oktober 1962. Daar is as gemeente vir ‘n jaar lank gebid om herlewing. “Dit was asof die Gees van God, mense opgewek het om die dienste by te woon en om te reageer op die boodskappe. Van die eerste aand af het siele die Heer gesoek. Elke aand het ons bewus geword, meestal terwyl ons sing, dat die Heilige Gees oor die vergadering toesak. Terwyl siele vorentoe stroom, het  kinders van God onbeskaamd gehuil van blyd­skap. Die Sater­dagaand met ds. Smit se getuienis was die kerk te klein. Daar is vir baie siekes gebid en etlike van hulle het Sondag­middag getuig dat die Heer hulle oombliklik aangeraak het. Daar was nie net getuienisse van redding en g­ene­sing nie, maar ook van kinders van God wat eerlik geword het en hulle swakke geestelike toestand erken het. “Reeds val die drup­pels gedurig, om strome bly ons ge­bed” (Die Nuwe Protestant 1 Des. 1962, p.12).

 

  Dit is merkwaardig dat die Here hierdie gemeente vanaf sy stigting in so ‘n klein dorpie staande gehou het om sy lig te laat skyn.

 

  Mag dit waar wees van elkeen van ons wat geskrywe staan van Stefa­nus. Hand. 6:5 – Stefanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees.