Duurwerk gaan voort

 

Sendingwerk is nie goed­koop nie. Dit is die aller­duurste werk wat op aar­de gedoen kan word. Be­doel­ende, nie so duur as dit in rand en sent en tyd en op­of­fe­rings bereken word nie, maar wat dit Jesus gekos het om uit al die volkere van wêreld vir Hom ‘n na­kroos te ver­samel. Hy moes sy siel as skuld­offer aanbied. (Jes. 53:10). Dit het niks min­der as die lewe van die Seun van die mens ge­kos nie! Dit is die duur prys wat Hy moes betaal om ‘n verlore mens­dom te red. Hierdie duur­werk gaan vandag nog voort en God is steeds besig om die nageslag van sy Seun, wat Hy met sy bloed ge­koop het, uit al die volke van die wêreld te ver­samel.

 

Die begin en voortgang . . .

Die duurwerk van die EGK se sendingaksie het amptelik tydens die sinode van 1949 begin by die verkiesing van die eerste Sinodale Sendingkommissie. Kerkplanting onder ander bevolkingsgroepe is sedert 1951 in swang. Tot en met 1992 is 24 gemeentes in swartgemeenskappe geplant, 10 in die bruin- en 2 in die Indiërgemeenskappe. Sodoende het die “Evangelical Reformed Church” en die Evangelies-Gereformeerde Kerk onder genoemde gemeenskappe tot stand gekom.

 

Buitelandse drome

Tydens die sinode van 1951 is moontlikhede bespreek en ideale gekoester om ook in die buiteland betrokke te raak, maar vir jare was daar geen verwikkelinge in dié opsig nie. In 1982 is Etha Pretorius na die Filippyne en in 1984 is ds. Jan en Marié Coetzer vir taalstudies na Frankryk om later met sendingwerk op die eiland Mayotte te begin, sonder enige amptelike kerklike onder­steuning.

 

Besondere mense

Verskeie glansryke figure het deur die jare besondere diens onder moeilike om­standighede binne SA onder ander bevolkingsgroepe gelewer, waaronder di. C. Naude, P.Smit, H.Steyn C.Smit (Maranata Bybelskool), M.Kukkuk, en A.Woest asook eerw. C.van Niekerk en C.de Villiers. Di. A.van Niekerk en K.Grobler was voltyds by opleiding in Hammanskraal betrokke. Daar was ook verskeie ander indiwidue en lede van kommissies wat noemenswaardige bydraes gelewer het.

 

Vernuwende wending

Na ‘n baie stil tyd in dié afdeling van die kerk se werk, is ds. Thys Loubser tydens die Augustussinode van 1992 as sen­dingorganiseerder van die kerk beroep. Op 13 Oktober 1992 het Aksie 1:8 die lig gesien en het die werk weer koers gekry onder die toesig van  die SSK. Die doel met die Aksie was om wanpersepsies rondom sending uit die weg te ruim en elke gemeente van die kerk persoonlik by die evangelisering van die wêreld betrokke te kry deur te bid, te gee en sendelinge aan te neem, uit te stuur en te versorg. Die sendingtaak moes terug na die plaaslike gemeente, soos Andrew Murray reeds by die draai van die vorige eeu gepleit het.

 

Span wat tans die sendingwa trek

Tans is daar 17 transkulturele sendelinge wat binne SA werk en 27 sendelinge wat in 12 verskillende lande buite SA werk. Dan is daar 56 swartwerkers, 17 bruinwerkers en 3 Indiërwerkers, wat onder hul eie onderskeie bevolkingsgroepe arbei in gemeentes wat ontwikkel het. Wat studente-, jeug- en kinderbedieninge betref, is daar 8 en­toesiastiese geroepenes in dié onderskeie bedieninge werksaam. Hierdie werkers in God se diens word pastoraal versorg deur ‘n konstruktiewe bediening van bemoediging. Hulle word aan stuur- en tuisbasisgemeentes verbind, wat ondersteuning bied deur gebed, finansies en op morele gebied.

 

Evangeliese aktiwiteite

Duisende mense word deur genoemde sendelinge met die evangelie bereik d.m.v. spesiale veldtogte, persoonlike evangelisasie, korttermynuitreike, kerkplanting en ge­meentebou, Woordverkondiging, vertoning van die Jesusfilm en andere, verspreiding van die Bybel en traktaatjies en radio-uitsendings. Talle mense kom tot bekering en vind verlossing in Jesus deur al hierdie evangeliese aktiwiteite.

 

“Leer hulle . . .”

Geroepenes word opgelei by die Thlalasong Bybelskool te Hammanskraal en die EGB vir afstandonderrig. Opleiding en dis­sipelering word ook behartig in samewerking met die Timotheus Opleidinginstituut.

 

Bedrywige sendingkantoor

Die sendingkantoor, wat in 1993 heropen is, funksioneer goed en word deur 4 persone behartig. Omvangryke administratiewe take word verrig. Alle ondersteunings- en operasionele aksies word vanuit die kantoor gekoördineer en gefasiliteer. ‘n Nuusblad, met terugvoering uit die sendingveld, sien gereeld die lig. ‘n Gebedskalender is jaarliks beskikbaar, wat voorbidders begelei om daagliks vir sendelinge en onderskeie bedieninge te bid.

 

MOB vir die toekoms

Op pad die toekoms in is ons uitgedaag om te volhard en gerig op drie fokuspunte  nl. Mobilisering, opleiding en bereiking  (MOB).

 

o        Mobilisering: Elke Bybelse en evangeliese gemeente moet ‘n helder begrip hê van haar rol in die evangelisering van die wêreld. Mobilisering van die kerk behels die proses om lidmate vanuit ‘n “passief-kerkbank-sittende-seën- ontvangende” posisie na ‘n aktiewe lewende entoesiastiese missionêre betrokke en strategies-dinamies uitlewing van die Groot Opdrag te verskuif.

o        Opleiding: Geestelike leiers moet opgelei en toegerus word om te gaan en ander te leer. Deeglike nasorg moet gedoen word. Jesus het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels en leer hulle . . .” Goeie opleiding en geestelike toerusting is integraal deel van die Groot Opdrag!

o        Bereiking: Die verlore wêreld moet met die beste nuus van Jesus se koms vir sondaars bereik word op elke en enige moontlike manier. Elke land, stad, dorp, gemeenskap, familie, of etniese groepering moet binne bereik van ‘n evangeliese getuienis en kerk gebring word. Daarom is dit ons droom om elke kind van God in elke gemeente op een of ander wyse te betrek by die Groot Opdrag, want elke hand, almal se talente en gawes is nodig om hierdie groot taak uit te voer. Net hierdie geslag gelowiges is verantwoordelik vir en kan hierdie geslag verlorenes bereik.

 

Met MOB in die visier vertrou ons die Here vir ‘n 1 000 voorbidders, 850 nuwe finansiële ondersteuners (Projek 850) en 10 nuwe gemeentes, wat ‘n bediening van totale evangelisasie sal implementeer. Dit is Hand. 1:8-gemeentes, vervul met die Heilige Gees en aktief in alle fassette by plaaslike, transkulturele en buitelandse evangelisasie betrokke d.m.v. gebed, finansies en spontane sendingaktiwiteite.

 

Onveranderlike oortuigings van gister ook vir môre

Ons sendingaksie en bogenoemde drie fokuspunte is gefundeer in drie on­ver­anderlike oortuigings:

1.      Die Groot Opdrag (Mat. 28:18-20, Hand. 1:8) moet letterlik opgeneem word.

2.      Sonder eenheid is die taak onmoontlik.

3.      Gebed sal elke struikelblok in die pad verwyder en deurbrake moontlik maak.

 

Strewe na vroeë kerk evangelisasie op pad vorentoe

Die vroeë kerk waaroor dr. Lukas in die boek Han­delinge skryf se evangelisasie en sen­dingaksies was sonder twyfel baie suksesvol. Dick Eastman wys drie eienskappe uit waarom die vroeë kerk sukses gehad het en waarom ons ook vandag suksesvol kan wees in die voltooiing van die Groot Opdrag:

1.   Dit was eenvoudig. Dorpe, stede, sinagoges, strate, huise en stadspleine is deurweek met die evangelie. Eenvoudig net daar waar die mense is, woon en werk, elke volk, taal en nasie. T.s.v. die Sanhedrin se verbod, het die evangelie in die hele Jerusalem rondgelê (Hand. 5:28). Na twee jaar het al die inwoners van die provinsie van Asië, Jode sowel as Grieke, die Woord van die Here gehoor onder die bediening van Paulus. (Hand. 19:10). Hy het van huis tot huis gegaan en sy navolgers so geleer. (Hand. 20:20). Doodeenvoudig!

2.   Dit was sistematies. Ongeleerde en eenvoudige manne (Hand. 4:13) het siste­maties met ‘n plan gewerk en die enigste Naam van redding (Hand.4:12) onder die volk versprei, dag vir dag, in tempels, van huis tot huis, van persoon tot persoon. Dit was ‘n plan van totaliteit. Nie een mag oorgeslaan word nie!

3.   Dit was strategies. Jesus het die strategie in Hand 1:8 deurgegee en so verhaal Lukas hoe die vroeë kerk in Jerusalem, plaaslik (Hand. 2-7), Judea, provinsiaal/nasionaal, Samaria, transkultureel (Hand. 8:12 en die uiterstes, internasionaal (Hand. 13 en verder) bereik het deur strategies fisies te gaan.

 

Die SSK se gebed vir die pad vorentoe is dat ons na die vroeë kerk se voorbeeld en visie vir evangelisasie en sending sal opleef en strewe! Mag God in die EGK van SA ‘n kerk vind waarin sy laaste opdrag eerste prioriteit is en nie teruggedeins word vir hierdie duurwerk nie!