Duurwerk gaan voort
Sendingwerk is nie goedkoop nie. Dit is die allerduurste werk wat op aarde gedoen kan word. Bedoelende, nie so duur as dit in rand en sent en tyd en opofferings bereken word nie, maar wat dit Jesus gekos het om uit al die volkere van wêreld vir Hom ‘n nakroos te versamel. Hy moes sy siel as skuldoffer aanbied. (Jes. 53:10). Dit het niks minder as die lewe van die Seun van die mens gekos nie! Dit is die duur prys wat Hy moes betaal om ‘n verlore mensdom te red. Hierdie duurwerk gaan vandag nog voort en God is steeds besig om die nageslag van sy Seun, wat Hy met sy bloed gekoop het, uit al die volke van die wêreld te versamel.
Die begin en voortgang . . .
Die duurwerk van die EGK se
sendingaksie het amptelik tydens die sinode van 1949 begin by die verkiesing
van die eerste Sinodale Sendingkommissie. Kerkplanting onder ander
bevolkingsgroepe is sedert 1951 in swang. Tot en met 1992 is 24 gemeentes in
swartgemeenskappe geplant, 10 in die bruin- en 2 in die Indiërgemeenskappe.
Sodoende het die “Evangelical Reformed Church” en die Evangelies-Gereformeerde
Kerk onder genoemde gemeenskappe tot stand gekom.
Buitelandse drome
Tydens die sinode van 1951 is
moontlikhede bespreek en ideale gekoester om ook in die buiteland betrokke te
raak, maar vir jare was daar geen verwikkelinge in dié opsig nie. In 1982 is
Etha Pretorius na die Filippyne en in 1984 is ds. Jan en Marié Coetzer vir
taalstudies na Frankryk om later met sendingwerk op die eiland Mayotte te
begin, sonder enige amptelike kerklike ondersteuning.
Besondere mense
Verskeie glansryke figure het deur
die jare besondere diens onder moeilike omstandighede binne SA onder ander
bevolkingsgroepe gelewer, waaronder di. C. Naude, P.Smit, H.Steyn C.Smit
(Maranata Bybelskool), M.Kukkuk, en A.Woest asook eerw. C.van Niekerk en C.de
Villiers. Di. A.van Niekerk en K.Grobler was voltyds by opleiding in
Hammanskraal betrokke. Daar was ook verskeie ander indiwidue en lede van
kommissies wat noemenswaardige bydraes gelewer het.
Vernuwende wending
Na ‘n baie stil tyd in dié afdeling
van die kerk se werk, is ds. Thys Loubser tydens die Augustussinode van 1992 as
sendingorganiseerder van die kerk beroep. Op 13 Oktober 1992 het Aksie 1:8 die
lig gesien en het die werk weer koers gekry onder die toesig van die SSK. Die doel met die Aksie was om
wanpersepsies rondom sending uit die weg te ruim en elke gemeente van die kerk
persoonlik by die evangelisering van die wêreld betrokke te kry deur te bid, te
gee en sendelinge aan te neem, uit te stuur en te versorg. Die sendingtaak moes
terug na die plaaslike gemeente, soos Andrew Murray reeds by die draai van die
vorige eeu gepleit het.
Span wat tans die sendingwa trek
Tans is daar 17 transkulturele
sendelinge wat binne SA werk en 27 sendelinge wat in 12 verskillende lande
buite SA werk. Dan is daar 56 swartwerkers, 17 bruinwerkers en 3 Indiërwerkers,
wat onder hul eie onderskeie bevolkingsgroepe arbei in gemeentes wat ontwikkel
het. Wat studente-, jeug- en kinderbedieninge betref, is daar 8 entoesiastiese
geroepenes in dié onderskeie bedieninge werksaam. Hierdie werkers in God se
diens word pastoraal versorg deur ‘n konstruktiewe bediening van bemoediging.
Hulle word aan stuur- en tuisbasisgemeentes verbind, wat ondersteuning bied
deur gebed, finansies en op morele gebied.
Evangeliese aktiwiteite
Duisende mense word deur genoemde
sendelinge met die evangelie bereik d.m.v. spesiale veldtogte, persoonlike
evangelisasie, korttermynuitreike, kerkplanting en gemeentebou,
Woordverkondiging, vertoning van die Jesusfilm en andere, verspreiding van die
Bybel en traktaatjies en radio-uitsendings. Talle mense kom tot bekering en
vind verlossing in Jesus deur al hierdie evangeliese aktiwiteite.
“Leer hulle . . .”
Geroepenes word opgelei by die
Thlalasong Bybelskool te Hammanskraal en die EGB vir afstandonderrig. Opleiding
en dissipelering word ook behartig in samewerking met die Timotheus
Opleidinginstituut.
Bedrywige sendingkantoor
Die sendingkantoor, wat in 1993
heropen is, funksioneer goed en word deur 4 persone behartig. Omvangryke
administratiewe take word verrig. Alle ondersteunings- en operasionele aksies
word vanuit die kantoor gekoördineer en gefasiliteer. ‘n Nuusblad, met
terugvoering uit die sendingveld, sien gereeld die lig. ‘n Gebedskalender is
jaarliks beskikbaar, wat voorbidders begelei om daagliks vir sendelinge en
onderskeie bedieninge te bid.
MOB vir die toekoms
Op pad die toekoms in is ons
uitgedaag om te volhard en gerig op drie fokuspunte nl. Mobilisering, opleiding en bereiking (MOB).
o
Mobilisering: Elke Bybelse en evangeliese
gemeente moet ‘n helder begrip hê van haar rol in die evangelisering van die
wêreld. Mobilisering van die kerk behels die proses om lidmate vanuit ‘n
“passief-kerkbank-sittende-seën- ontvangende” posisie na ‘n aktiewe lewende
entoesiastiese missionêre betrokke en strategies-dinamies uitlewing van die
Groot Opdrag te verskuif.
o
Opleiding: Geestelike leiers moet opgelei en
toegerus word om te gaan en ander te leer. Deeglike nasorg moet gedoen word.
Jesus het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels en leer hulle . . .” Goeie
opleiding en geestelike toerusting is integraal deel van die Groot Opdrag!
o
Bereiking: Die verlore wêreld moet met die
beste nuus van Jesus se koms vir sondaars bereik word op elke en enige
moontlike manier. Elke land, stad, dorp, gemeenskap, familie, of etniese
groepering moet binne bereik van ‘n evangeliese getuienis en kerk gebring word.
Daarom is dit ons droom om elke kind van God in elke gemeente op een of ander
wyse te betrek by die Groot Opdrag, want elke hand, almal se talente en gawes
is nodig om hierdie groot taak uit te voer. Net hierdie geslag gelowiges is
verantwoordelik vir en kan hierdie geslag verlorenes bereik.
Met MOB in die visier vertrou ons
die Here vir ‘n 1 000 voorbidders, 850 nuwe finansiële ondersteuners (Projek
850) en 10 nuwe gemeentes, wat ‘n bediening van totale evangelisasie sal
implementeer. Dit is Hand. 1:8-gemeentes, vervul met die Heilige Gees en aktief
in alle fassette by plaaslike, transkulturele en buitelandse evangelisasie
betrokke d.m.v. gebed, finansies en spontane sendingaktiwiteite.
Onveranderlike oortuigings van
gister ook vir môre
Ons sendingaksie en bogenoemde drie
fokuspunte is gefundeer in drie onveranderlike oortuigings:
1. Die Groot
Opdrag (Mat. 28:18-20, Hand. 1:8) moet letterlik opgeneem word.
2. Sonder
eenheid is die taak onmoontlik.
3. Gebed sal
elke struikelblok in die pad verwyder en deurbrake moontlik maak.
Strewe na vroeë kerk evangelisasie
op pad vorentoe
Die vroeë kerk waaroor dr. Lukas in
die boek Handelinge skryf se evangelisasie en sendingaksies was sonder twyfel
baie suksesvol. Dick Eastman wys drie eienskappe uit waarom die vroeë kerk
sukses gehad het en waarom ons ook vandag suksesvol kan wees in die voltooiing
van die Groot Opdrag:
1. Dit was eenvoudig. Dorpe,
stede, sinagoges, strate, huise en stadspleine is deurweek met die evangelie.
Eenvoudig net daar waar die mense is, woon en werk, elke volk, taal en nasie.
T.s.v. die Sanhedrin se verbod, het die evangelie in die hele Jerusalem
rondgelê (Hand. 5:28). Na twee jaar het al die inwoners van die provinsie van
Asië, Jode sowel as Grieke, die Woord van die Here gehoor onder die bediening
van Paulus. (Hand. 19:10). Hy het van huis tot huis gegaan en sy navolgers so
geleer. (Hand. 20:20). Doodeenvoudig!
2. Dit was sistematies. Ongeleerde
en eenvoudige manne (Hand. 4:13) het sistematies met ‘n plan gewerk en die
enigste Naam van redding (Hand.4:12) onder die volk versprei, dag vir dag, in
tempels, van huis tot huis, van persoon tot persoon. Dit was ‘n plan van
totaliteit. Nie een mag oorgeslaan word nie!
3. Dit was strategies. Jesus het
die strategie in Hand 1:8 deurgegee en so verhaal Lukas hoe die vroeë kerk in
Jerusalem, plaaslik (Hand. 2-7), Judea, provinsiaal/nasionaal, Samaria,
transkultureel (Hand. 8:12 en die uiterstes, internasionaal (Hand. 13 en
verder) bereik het deur strategies fisies te gaan.
Die SSK se gebed vir die pad vorentoe is dat ons na
die vroeë kerk se voorbeeld en visie vir evangelisasie en sending sal opleef en
strewe! Mag God in die EGK van SA ‘n kerk vind waarin sy laaste opdrag eerste
prioriteit is en nie teruggedeins word vir hierdie duurwerk nie!