Die Sinodale evangelisasie- en uitbreidingskommissie
“Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes.”
(Joh. 4:35).
WAAR HET DIT BEGIN?
Op 5 April 1976, byna 32 jaar na
die stigting van die Kerk, is daar ‘n besluit geneem wat seker die grootste
impak op die groei van die Kerk gehad het, naamlik die totstandkoming van die
Sinodale Evangelisasie- en Uitbreidingskommissie, kortweg bekend as die S.E.K.
Ons doel is om die boodskap wat aan die Kerk toevertrou is, uit te dra deur
middel van evangelisasieveldtogte, advertensies, druk van literatuur en die
stigting van nuwe gemeentes.
Baie is deur die jare deur hierdie kommissie gedoen om die Kerk bekend
te stel. Derduisende bekendstellingsblaadjies is laat druk en advertensies is
landwyd versprei.
Die lede wat in die eerste kommissie gedien het, was di. Attie Olwagen
(oorlede), Fanie Hugo, Lambert van Sittert, Fred Haupt, Hennie Storm (oorlede),
Chris Cronje (oorlede) en mnr. Johan Annandale.
Sedert die ontstaan van die S.E.K. het daar talle gemeentes tot stand
gekom deur die kommissie se ywer en inisiatiewe. Die eerste gemeente wat gestig
is, was Parow – vandag bekend as Tygerberg, een van die grootste gemeentes in
die Kerk.
DIE ORGANISERENDE EVANGELISASIESEKRETARIS
Binne 2 jaar het die werk só
uitgebrei dat die kommissie genoodsaak was om ‘n voltydse werker te benoem om
die doelstelling van die S.E.K te bevorder, naamlik die groei van die Kerk in
onbereikte plekke en gebiede in Suid-Afrika.
Ds.Lambert van Sittert is kort daarna benoem in die amp as Organiserende
Evangelisasiesekretaris, kortweg bekend as die O.E.S. In 1983 het ds. Haupt
hom opgevolg tot 1990 toe hy verplig was om weens gesondheidsredes uit die amp
te bedank. Hierna is ds. Van Sittert weer in die amp bevestig. Ander leraars
wat in die amp gedien het, is di. Hennie Prinsloo, Bill Barkley en Frik Lombard
(sr.), die huidige O.E.S.
STIGTING VAN NUWE WERKKRINGE
Die stigting van nuwe werkkringe
geskied met die hulp van die S.E.K. en het ten doel om werkkringe te ontwikkel
tot selfstandige gemeentes. Dit is ‘n Bybelse metode vir die uitbreiding van
die koninkryk van God. Elke werkkring is ‘n punt waarvandaan die lig van
verlossing in daardie omgewing skyn en uitgedra word.
Deur werkkringe te stig, word groter trefkrag aan die evangelie verleen.
Tot eer van die Here kan getuig word dat talle siele deur die jare in ons land
daardeur gered is. Talle werkkringe wat deur die S.E.K. gestig is, het tot
bloeiende selfstandige gemeentes ontwikkel. Uit sulke gemeentes het alreeds
ander gemeentes tot stand gekom – ‘n bewys dat die stigting van nuwe
werkkringe ‘n dinamiese en kragtige wyse van uitbreiding is. Sodoende is daar
veel bygedra om die koninkryk van ons geliefde Here Jesus Christus uit te brei.
ONTWIKKELENDE GEMEENTES
Daar is tans 13 ontwikkelende
gemeentes onder die sorg van die S.E.K. Bid asseblief vir die volgende
gemeentes en leraars.
Amanzimtoti:
Ds.
Johan Cloete
Durban: Vakant
(Tydelike sorg – ds. Frik Lombard)
Orkney: Ds. Willie
du Plessis
Phalaborwa:
Ds.
Herbie Lyon
Potgietersrus:
Ds.
Willie de Wet
Upington: Ds. Martyn
Devenier
Vryheid: Ds. Hendrik
Weyers
Benoni: Ds. Gert
Grobler
Louis
Trichardt: Ds. Tertius Smit
Oudtshoorn:
Ds.
Hennie Vorster
Port
Elizabeth Suid: Ds. Kobus v. Jaarsveld
Richardsbaai:
Ds.
Pieter Loots
Volksrust: Ds.
Llewyllen Holder
Dit is met dankbaarheid teenoor die Here dat daar uitgesien kan word dat
die gemeentes van Benoni, Richardsbaai en Upington binne die afsienbare tyd
selfstandig sal word.
UITDAGING
Die uitdaging vir die S.E.K. word
al hoe groter! Ons kan en mag nie hiervoor terugdeins nie. Ten spyte van tye
wat moeiliker word, veral op materiële gebied, moet die evangelie bly uitgaan
na verlore siele rondom ons.
Die S.E.K. kan in die uitvoering van sy taak net so doeltreffend wees as
wat die Kerk die kommissie daartoe in staat stel, dit wil sê deur elke gemeente
en lidmaat se ondersteuning hetsy finansieël of deur gebed.
DANKBETUIGING
Die S.E.K. wil al die Kerkrade,
Ringe, CVV’s, Sondagskole en individue wat deur die jare finansiële steun
verleen het, van harte bedank. ‘n Bydrae tot evangelisasie bereik ‘n verlore
siel.
Bid asseblief vir die S.E.K. – di. Rudy Beukes, Johan Botha, Hennie
Prinsloo, Danie van Rensburg en Frik Lombard (O.E.S.).
EVANGELISEER VANDAG – MÔRE MAG TE LAAT WEES!